
Deur SSG word heelwat kinders in Oekraïne en Moldawië deur lidmate van ons gemeente geborg. Daar word gereeld by ander gemeentes namens SSG aanbiedings en preke gedoen oor SSG se werk en om borge vir kinders/families te werf. Groot dank aan almal wat so getrou vir hierdie bedieningswerk bid.
Einde 2009 was dit 20 jaar terug dat kommunisme tot 'n val gekom het en die Berlynse muur letterlik afgebreek is. Ongelukkig het kommunisme 'n slegte nalatenskap: bankrot regerings, erge armoede, geweldige maatskaplike probleme, en oorvol kinderhuise (bv. in Oekraïne is daar 300 kinderhuise, en in Roemenië is daar 630). Daar word tans gepoog om elke maand vir 20 kinders in kinderhuise borge te kry teen R160 per maand. Dit is genoeg om in hierdie oud-Russiese lande letterlik vir alle basiese lewensmiddele wat 'n kind nodig het, te betaal, asook in hul geestelike, opvoedkundige en emosionele behoeftes te voorsien. Die Here is uiters getrou! Orals waar SSG se werk in gemeentes bekendgemaak word, raak Hy lidmate se harte aan om maar nie net vir hierdie saak te bid nie, maar om ook self kinders te borg. Party verkies om eerder 'n bydrae (vanaf R80 pm) tot die Cernoleuca kinderhuis in Moldawië te maak (dit beteken 'n verskil in 75 kinders se lewens), en ander verkies om eerder 'n gesin te help borg (R150 pm borg ‘n kwart van ‘n gesin se behoeftes) om sodoende te keer dat daardie gesin se kinders in die kinderhuis beland.
Hou asseblief aan om die Here te dank vir sy seën op hierdie bediening, en bly bid vir nuwe geleenthede vir preke en aanbiedings tydens eredienste. Besoek ook Sending Sonder Grense Suid-Afrika en Mission Without Borders International. Ds Tait is beskikbaar vir optredes tydens eredienste, by selgroepe, by Sendingweke, by etensuurbidure, by ontbyte, ens. U kan hom kontak by 082 6014 235 of Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien
Agtergrond Geskiedenis van Sending Sonder Grense
2010 is die 50ste bestaansjaar van Sending Sonder Grense wat in 1960 as Underground Evangelism begin het. Underground Evangelism het destyds Bybels in die kommunistiese lande ingesmokkel en die leiers en lidmate van die ondergrondse kerke bygestaan. In 1992 het Underground Evangelism se naam na Mission Without Borders verander met die fokus om die armoede wat kommunisme agtergelaat het, aan te spreek. Sending Sonder Grense bedien in Albanië, Bosnië, Bulgarye, Moldawië, Oekraïne en Roemenië (vroeër kommunistiese lande). SSG verskaf Christelike literatuur en onderrig, en voorsien terselfdertyd in die materiële behoeftes van die armes en behoeftiges. SSG is op die oomblik deur die KRI-borgprogram betrokke by die lewens van meer as 27 000 kinders in kinderhuise en by meer as 1 000 gesinne deur die Gesin-tot-Gesin-borgprogram.
Sending Sonder Grense Bediening
Die bediening van SSG is primêr om geestelike, opvoedkundige, emosionele en materiële bystand te verleen en wel deur die volgende programme en projekte, naamlik:
• Kinderredding Internasionaal en Kinder Herstelhuise: Bystand aan hierdie kinders d.m.v. borgskap teen R160 per maand. Borge ontvang jaarliks nuwe inligting en foto's van "hul" kind en kan briefies stuur.
• Gesin-tot-Gesinprogram: Bystand aan behoeftige gesinne d.m.v. borgskap teen R150 per maand wat genoeg is om 'n kwart van die behoeftes van 'n gesin aan te spreek.
• Gemeenskapsentrums: SSG versterk d.m.v. vennootskappe plaaslike gemeentes in hulle uitreiking na hulpbehoewendes in hulle gemeenskap. Nie alleen materiële en emosionele sorg nie, maar ook d.m.v. die Evangelie.
• Kinder- en Moedersorgprojek: SSG staan jong, verwagtende moeders by tydens die swangerskap tot na die geboorte. Gestremde en mishandelde kinders, straatkinders en kinders in tronke word ook bygestaan.
• Gesinsorgprojek: Met hierdie projek word daar op 'n voortdurende basis gesinne wat in 'n krisis is gehelp. Hulle word ook gehelp deur projekte (Operasie Kersliefde en Operasie Winterredding) en mediese klinieke.
• Christelike Uitreiking: Elke program en projek is 'n uitreiking in reaksie op die bevel in Matthéüs 28: 19: verskaffing en verspreiding van bybels en Christelike literatuur; bybelkorrespondensiekursusse; en Christelike insetklasse (Sondagskool) in die kinderhuise.
Werkswyse
SSG se werkswyse is om die inheemse mense van die lande te gebruik deur hulle te bemagtig sodat hulle hul eie mense met die Evangelie kan bereik. Deur dit te doen word die waardigheid van die individu erken en help dit om kapasiteit tot selfversorging te ontwikkel. SSG gebruik die infrastruktuur wat oor baie jare heen gevestig is om die bedieninge in hierdie lande te vergemaklik soos bv. 'n sendingsentrum in elke land, mediese klinieke in Albanië, en sopkombuise in samewerking met plaaslike gemeentes in Bosnië, Oekraïne en Bulgarye.
Internasionale en geaffilieerde operasies word op 'n jaarlikse basis deur onafhanklike ouditeure geoudit. Die Suid-Afrikaanse ouditeurs is Anderson, Rochussen, Van der Bijl Ingelyfde Geoktrooieerde Rekenmeesters (SA). Administratiewe onkostes beloop slegs 'n klein persentasie van die totale inkomste (4.33% in 2008).
Jubileum 2010: Een-Miljoen Bybles Dankseggingsprojek.”
Jubileum “Een-Miljoen Bybels Dankseggingsprojek.” Sending Sonder Grense loods, ter viering van vyftig jaar in die bediening, die “Jubileum Dankseggingsprojek”. Hierdie opwindende projek het nou begin. Ons beplan om die bestaande Veldlande met Een Miljoen Bybels vir alle ouderdomsgroepe te oorstroom. Baie mense glo dat daar nie meer ʼn groot behoefte of dringendheid is om Bybels in Oos-Europa en China te versprei nie aangesien dit tog nou moontlik is om Bybels in hierdie lande te druk. Alhoewel Bybels beskikbaar is, het baie mense in ons hoof teikengroepe – die armes, verlatenes, verwaarloosdes en eensames – net nie toegang tot, of geld om hulle eie Bybel aan te skaf nie. Ons is baie opgewonde om weereens hierdie nodige en lewegewende projek van Bybelverspreiding aan diegene wat waarlik God se Woord nodig het, te loots. Die oproep om Een-Miljoen Bybels te versprei neem ons weer terug na ons wortels-, ons fondasie om uitgehongerde siele se honger met die Woord van God te stil. Dit was ons Here Jesus self wat hierdie ewige waarheid ten opsigte van die mens verdedig en uitgewys het: dat “die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die Here uitgaan.” (Deuteronomium 8:3). Verder het God lank terug met die profeet, Jesaja, gepraat en gesê dat Sy Woord, wat uit Sy mond uitkom “.nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur” (Jesaja 55:11). Dit was die visie waarop ons Sending gegrond is, en waarop ons gaan voortbou, vir hierdie en die toekomstige generasies wat die Here ons geroep het om te dien. Wil u dit dalk oorweeg om betrokke te raak en miskien ʼn paar Bybels te borg? Ons kan ʼn Bybel druk en dit plaas vir slegs R50,00.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





