Hier is 'n stukkie inspirasie wat ek onlangs gelees het en graag wil deel. Dit is een van Radio Kansel se e-pos dagstukkies en ek haal daaruit aan.
"Is jy vandag in die smeltkroes? Moet dan nie rebelleer of weghardloop nie. Sit net stil en laat die Raffineerder toe om Sy werk te doen.
Die Bybel sê: 'Hy sal gaan sit en oordeel soos iemand wat silwer smelt en suiwer maak... Dan sal hulle weer vir die Here aanvaarbaar wees om offers te bring.' 'n Sekere vrou wat hierdie vers gelees het, wou vasstel hoe die suiwering van silwer op haar geestelike lewe betrekking het en het gaan kyk hoedat 'n silwersmid te werk gaan. Sy het niks van haar eintlike doel met die besoek gesê nie, maar net gesit en kyk hoe hy werk. Die silwersmid het verduidelik dat ten einde enige onsuiwerheid te kan verwyder, hy die silwer in die middel van die vlam, waar dit die warmste was, moes hou. Sy het gevra of hy die hele tyd voor die vuur moes sit. Hy het bevestigend geantwoord en gesê dat hy die silwer die hele tyd moes dophou en nie té lank in die vlam hou nie, anders kon dit vernietig word. Sy het nagedink en gevra, 'Hoe weet jy wanneer die proses voltooi is?' Glimlaggend het hy geantwoord, 'Wanneer ek my refleksie daarin kan sien.'
Indien jy vandag in die smeltkroes is, onthou: a) Hy weet wat Hy doen, vertrou Hom; b) Hy sal nie sy oë van jou wegneem of toelaat dat jy deur omstandighede vernietig word nie; c) wanneer die proses voltooi is, sal jy meer soos Jesus wees en minder soos jou ou self. Is dit nie wat jy wil hê nie? Is dit nie wat jy in gebed vra nie?
| < Vorige | Volgende > |
|---|





