Kan 'n gelowige regtig vas en seker weet dat hy/sy die ewige lewe sal ingaan?
Die vraag veronderstel dat mens soms twyfel ervaar. Dit is nogal jammer dat so baie gelowiges dikwels met onsekerheid lewe. Dan val die passie en opwinding van die geloofslewe plat. Dan word ons maklik net "kerkmense", en nie ware gelowiges nie!
Vra mens die vraag aan 'n Christen: is jy seker van die ewige lewe?
dan is daar dikwels die huiwering.
Dikwels die antwoord: Ek weet nie, ek hoop so, miskien….
Broeders en susters, as dit van jou as mens sou afhang, wel ja dan sal ons sekerlik nooit seker wees nie. As dit afhang van jou besluite, jou dade,… dan sal ons maar gereeld met onsekerheid eindig. Die Bybel wys ons egter verby die mens… na God!
In ons teks is die Here Jesus aan die woord en die belofte is ooglopend duidelik:
Voorwaar, wie in My glo, het die ewige lewe!
En as jy dit lees en nog so bietjie twyfel, vra dan eerstens of jy werklik glo…werklik in Jesus Christus glo. Glo jy dat Hy vir jou gely en gesterf het? Dat Hy ten volle vir al jou sondes betaal het? Neem daarby dat dit Hy, Jesus Christus, die Seun van God, self God, is wat hierdie belofte maak: Dit verseker ek julle…
"Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle: Wie in My glo het die ewige lewe…"
duideliker kan dit tog nie wees nie!
Die evangelie van Johannes het ten doel om juis te leer dat ons deur geloof in Christus gered word. Ons teks staan nou in 'n gedeelte wat handel oor ongeloof! Johannes wys ons op die Jode wat nie in Hom wil glo nie. Hulle aanvaar nie sy leer, sy prediking nie. Jesus het pas gehandel oor die uitverkiesing:
"Niemand kan na My toe kom as die Vader wat my gestuur het hom nie trek nie;
en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan" - Romeine 6:44
Maar vir die Jode met hulle wettisisme is hierdie woorde te erg. Hulle is gewoond aan hulle slawerny aan die wet van Moses – jy moet sus en so doen, jy moet reëls en gebooie hou om gered te word. Daarom is die evangelie van genade en uitverkiesing onaanvaarbaar.
As u die hoofstuk mooi lees sien u dat Jesus geen duimbreedte toegee an die Jode nie. Dis die Here wat jou moet red. Self kan jy dit nie doen nie. Punt! Die Vader moet jou trek! En dan sien ons hoe die mense een na die ander wegstap. Hulle beskou Jesus se preek byna as belediging. Jy dink ons is magteloos. Ons kan onsself nie help nie. En so stap hulle weg, tot later net die twaalf dissipels oorbly.
Die punt wat Jesus maak en wat u moet verstaan is dat ons sekerheid van ons redding alles te make het met geloof!
"Wie in My glo, het die ewige lewe".
As ons dus met geloof besig bly, dan kom daar sekerheid. Dortse Leerreëls 5:9 – Die gelowiges kan sekerheid hê van die ewige bewaring van die uitverkorenes en van die volharding in die geloof. Hierdie sekerheid kom volgens die MAAT VAN GELOOF waarmee hulle seker glo dat hulle ware en lewende lidmate van die kerk is en altyd sal bly en dat hulle vergifnis van sonde en die ewige lewe het.
Die maat van geloof.
Glo jy in Jesus Christus?
Hoe groot moet die maat van geloof wees?
Jesus sou die vraag so antwoord: As julle geloof gehad het soos 'n mosterdsaadjie….
Dus: Glo jy in Jesus Christus?
Wel dan is dit my voorreg om vanaand aan u te bevestig:
Jy het die ewige lewe!
Maar broeders en susters, dan moet u steeds besig bly met u geloof. Soos jou geloof dan groei so sal jou sekerheid ook toeneem! Want die Here gee nie aan ons buitengewone tekens of openbaringe om ons tot sekerheid te lei nie.
Sommiges soek nog hierdie bonatuurlike tekens.
Hulle beweer dat God met hulle "gepraat" het,
of dat hulle 'n baie spesiale ondervinding gehad het.
Of hulle sien visioene, of 'n engel het hulle kom oortuig,
of hulle het die doop met die Gees nodig en moet in tale praat ….
God werk nie so nie. In Lukas 16 leer Jesus duidelik dat selfs 'n engel uit die hemel sal die mens nie oortuig nie. Nee, hulle het Moses en die profete, dit wil sĂŞ hulle het die Bybel! As jy met die geloof wil besig bly, moet jy met die Bybel besig bly! Sekerheid kom immers deur die Bybelse beloftes te glo. Geloof is om God se beloftes te aanvaar. Dan kom die Heilige Gees en skryf die beloftes oop jou hart. Die Heilige Gees werk altyd deur die Woord! Die Woord sit jou geloof aan die groei! Dan moet jy hierdie beloftes ken en selfs memoriseer.
Dus broeders en susters, die Here gaan nie een of ander tyd aan jou verskyn en jou vertel dat jy nou 'n kind van God is nie. Jy kan dit sommer in die Bybel lees!
En daar raak ons nou die hart van die onsekerheid aan! Ongelese Bybels. Ons gaan ten gronde weens 'n gebrek aan kennis. Gaan kyk maar na ons kinders se Bybelkennis. Ek moet aflei ons lees nooit of selde of baie selektief die Bybel. Ons lees dit verkeerd. Ons is nie bereid om die moeilike profesieë te lees nie, of die swaar Romeine boek, of om tydsaam die geskiedenis van Israel te bestudeer nie. Ons het net nie meer tyd nie. Buitendien is die gesag van die Bybel deesdae so bevraagteken dat baie mense nie eers meer aanvaar dat dit God se Woord is nie! Of ons is so selfgenoegsaam met ons baie geld wat alles kan koop, dat ons nie meer God se beloftes nodig het nie!
Ware geloof aanvaar alles wat in die Bybel staan vir waar/waaragtig.
Heidelbergse Kategismus vraag 21: Wat is 'n ware geloof?
Antwoord: 'n Ware geloof is nie alleen 'n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar nie, maar ook 'n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk , naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het.
Dit is immers die Woord van die Heilige Gees. Hy het dit self geïnspireer. Daarom wil God so werk. Die Heilige Gees wek die maat van jou geloof op deur die besig wees met sy Woord en deur die prediking daarvan. Dit is nie maar net nog 'n boek nie. Lees die Woord en glo dit en jou MAAT van geloof sal groei…van 'n mosterdsaad tot 'n boom wat vrugdra en waar die voëls kom nes maak! Lees jy die Bybel dan werk die Gees tot oortuiging.
"Die Gees getuig saam met my gees dat ons kinders van God is!" - Romeine 8:16
So groei die sekerheid. Sekerheid dat alles wat in die Woord staan waar is en ook vir jou waar is.
Luister weer na die teks:
"Wie in My glo het die ewige lewe."
Ek lees dit weer: Wie in my glo HET die ewige lewe!
Sien u dit? Hoor u dit?
As jy waarlik in Christus glo HET jy die ewige lewe. Dit is 'n gawe deur die geloof. God gee dit. Jy het dit. Nou reeds. En na hierdie tydelike lewe, het jy die volle heerlikheid wat God berei het. As u dus die ewige lewe HET, dan is u 'n kind van God, en niemand kan jou uit sy hand ruk nie. (Johannes 10 – 'n belofte!)
Beteken dit nou dat gelowiges nooit twyfel nie?
Dortse Leerreëls 5:11 beantwoord hierdie vraag:
Voorts getuig die Skrif dat die gelowiges in hierdie lewe teen verskillende sondige vertwyfelings stry en, as hulle in ernstige versoekings kom, nie altyd hierdie volle geloofsvertroue en hierdie sekerheid van die volharding ondervind nie. Maar God, die Vader van alle vertroosting, laat nie toe dat hulle bo hulle kragte versoek word nie, maar gee saam met die versoeking ook die uitkoms (1 Korintiërs 10:13), en deur die Heilige Gees maak Hy steeds weer die sekerheid van die volharding in hulle wakker.
Geliefdes, versoekings is deel van hierdie lewe. Daarmee saam kom ook die tye van vertwyfeling. Maar God wat sy kinders uitkies en na Hom toe trek, sal hulle ook bewaar.
"Hy sal nie toelaat dat jy bo jou kragte versoek word nie
en saam met die versoekings gee Hy ook weer op sy tyd die uitkoms"
(I Korintiërs 10:13 – nog 'n belofte om te onthou)
As die duiwel jou dus wil oortuig dat jy nie 'n kind van God is nie, omdat jy nog sulke lelike sondes pleeg, dan kom die twyfel. Hy wil jou sekerheid steel. Hoor hoe antwoord Paulus:
"Wie kan die uitverkorenes aankla: God self spreek hulle vry." - Romeine 8:33
Twyfel is deel van jou gevoels lewe. Sekerheid is deel van jou geloofslewe. Die twee is in stryd met mekaar. Maar onthou: Ons leef nie uit gevoel nie, maar uit geloof! Geloof is nie gebou op jou gevoel of ervaring nie, maar op God en sy Woord wat vas is. Wie in My glo het die ewige lewe! Dit geld ook vir sondaars. Christus het juis vir sondaars gesterf en opgestaan en Hy pleit vir ons!
Twyfel is dus nie noodwendig ongeloof nie. Dit is wel 'n gevoel van onsekerheid. En jy kom dit te bowe deur weer terug te gaan na die Woord. Geloof is die eenvoudige aanvaarding van die Woord-beloftes! As jy dus twyfel – en dan is jy in die geselskap van groot gelowiges… Gideon, Dawid, Johannes die Doper… - gaan dan maar weer terug na jou Bybel en na die prediking van die Woord, sodat die Heilige Gees in jou kan werk. So sal God jou vashou en jou weer van sy liefde en uitverkiesende genade verseker. En so sal ek en jy ook saam met Paulus weer en weer kan terugkom by die waarheid en met absolute sekerheid kan bely:
"Hiervan is ek oortuig: Niks, maar niks kan ons skei van die liefde van God
wat daar is in Jesus Christus ons Here nie." - Romeine 8:39
Mag God aan u ook hierdie heerlike sekerheid gee! Sien ook klankopname onder "Eredienste".
Meer van Ds. Maarten van Helden onder "skakels" .
| < Vorige | Volgende > |
|---|





