Hierdie is die eerste uitgawe van Concordia se nuusbrief wat deur wyksleiers by besoekpunte uitgedeel word. Die inhoud van die nuusbrief is hier beskikbaar, maar om aflaai-tyd kort te hou, is die foto's en ander grafiese dinge weggelaat. Om die volledige volkleur nuusbrief te kry kan jy my kontak by Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien , dan stuur ek vir jou. Geniet dit.
Blad Zonder Naam
Nuusbrief van Capital Park Concordia Gemeente
Uitgawe 1 ~ September / Oktober 2010
Lei en Griffel
Uiteindelik - 'n droom wat verwesenlik word. Ons kry ons eie Gemeenteblad. Jy mag wonder "Hoe het dit gebeur?" of "Hoekom nou eers?" Miskien is nou die regte tyd, hoe sal ons weet. Daar is reeds baie bespiegel en gepraat oor die moontlikheid van 'n nuusbrief, maar om dit 'n werklikheid te maak verg dat iemand iets meer doen as praat. Ons vertrou dat dit die Here se plan was en daarom kan ons dit met volle vertroue aanpak.
Wie is "ons"? Wel, Pieter het sy nek uitgesteek en ek het my dienste aangebied en siedaar - ons het 'n redaksie. Natuurlik is daar plek vir jou as jy graag 'n bydrae wil maak. Praat met een van ons.
Aanvanklik word die nuusbrief elke tweede maand gepubliseer. Mettertyd sal dit heroorweeg word en met die nodige ondersteuning en bydraes van die gemeente kan dit dalk elke maand gebeur. Wat ek eintlik probeer sê is dat ons jou nodig het - skryf vir ons iets of laat weet as jy hoor van iets nuus-waardigs in die omgewing. Elke bydra is goud werd.
Jy het seker opgemerk dat die nuusbrief begin met "Blad Zonder Naam" en gewonder daaroor. Ons hoop jy het gewonder, want dalk het jy 'n naam in gedagte. Dis presies wat ons wil hê - 'n naam vir ons nuus-brief (sien die kompetisie op bladsy 2). Ons kon seker self een uitgedink het, maar daar is soveel gemeentelede met hope verskuilde talent wat ons op die proef wil stel en kans wil gee om kreatief te raak. Dus soek ons 'n naam. As jy 'n voorstel het, skryf dit neer en plaas dit Sondag in die kollektehouer, of op die forum.
So van die webwerf gepraat - die nuusbrief word ook op die webwerf geplaas - www.concordia0084.co.za.
Dit is ons wens en vertroue, as eerste (vrywillige) redaksie, dat die nuusbrief 'n plekkie in elkeen van ons se lewe sal kry en 'n rol sal speel in ons "een van hart" leuse. Dankie dan ook aan elkeen wat 'n bydrae tot hierdie eerste uitgawe gemaak het.
Groete tot volgende keer.
Pieter en Kobus.
Kompetisie
Die redaksie is op soek na 'n naam vir die nuwe blad en dit is nou waar ons ons lesers se hulp nodig het. Ons soek voorstelle van die gemeente se kant af en ook 'n kort verduideliking hoe u op die naam gekom het. Ons kon seker self een uitgedink het, maar daar is soveel gemeentelede met hope versteekte talent wat ons op die proef wil stel en kans wil gee om kreatief te raak. As jy 'n voorstel of twee het, kan jy dit gerus neerskryf en eerskomende Sondag in die kollektehouer plaas, of op die webwerf plaas.Prys vir die persoon wie se naam uiteindelik gekies word: R300 Musica geskenkbewys.
Sluitingsdatum: 12:00 op Vrydag 15 Oktober 2010.
Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien
Reëls ("T & C's) - Hierdie kompetisie is slegs oop vir lede van die gemeente, en die redaksie se keuse is finaal en ononderhandelbaar.
Op die Rusbank
In "Op die Rusbank" kyk ons van nader na iemand in die gemeente. Dus, pak jou klerekas reg, was die skottelgoed, borsel jou hare en sit mooi regop, want jy mag dalk volgende wees.Ons skop af met die nuutste van ons predikante en sy gesinnetjie. Ds. Johan van Niekerk en sy gesin is reeds 'n jaar al in ons gemeente, maar hoeveel weet ons regtig van hom as persoon, of van Rina? Wat van hulle kinders. Om meer te wete te kom oor die persoon in die toga - en die persoon ágter die toga, wou Kobus gaan tyd spandeer op hulle rusbank, Maar Ds. Johan was voorbarig en het sommer self 'n kort stukkie geskryf. (Is daar iets wat hy vir ons probeer wegsteek?) Hier is wat hy vertel.
Ds. Johan is gebore in 1957. Sy vader was 'n bank-amptenaar, met die gevolg dat hulle baie rondgetrek het. Hy was tot matriek in agt verskillende skole, wat hom geleer het om aan te pas by nuwe omstandighede, of uit te val. Die nadeel aan die rondtrekkery was dat hy nooit geleer het om wortel te skiet nie. Dit beteken, volgens hom, dat hy "cheer" vir enige provinsie wat teen die Blou Bulle speel!! (Ons sal hom nog leer wat dit is om wortel te skiet in Blou Bul omgewing - Red.)
Rina is gebore in 1959 en het die grootste deel van haar lewe in Suid-Wes Afrika gebly (nog voordat dit Namibië was). Ds. Johan sê: "Ons is regtig nie skaam vir ons ouderdomme of die gebrek daaraan nie."
"Ons kinders, Louise en Frieda, is vir ons 'n groot bron van trots. Ons mag dit sê, want ons het van laerskool dae nooit hulle huiswerk vir hulle gedoen nie. Daarom is hulle prestasies hulle s'n en nie ons as ouers s'n nie!"
"Rina het 'n passie vir onderwys, om ander te leer om bo hul omstandighede uit te styg. Haar passie sluit nou by myne aan! Om die Ah Ha oomblik in mense se oë te sien as die Bybel vir hul sin maak, is 'n lewenslange droom.
Ons dogters deel die passie, elkeen op haar eie unieke metode. Om mens te wees in die volste sin van die woord, maak nie saak of ons in die wêreld is, of van die wêreld nie. Om elke dag sin te maak met die geskenk van 24 uur, is die verskil tussen bestaan en lewe!"
In die Nuus
Die nuwe Kerkraad - deur KobusTeen hierdie tyd het almal seker al gehoor dat die gemeente se sake anders bestuur gaan word as waaraan ons gewoond was.
As gevolg van die moeilike taak om gedurig ouderlinge en diakens te werf - en te behou - het die (vorige) Kerkraad die besluit geneem om 'n nuwe model vir die bestuur van die gemeente se sake te aanvaar en dat die (nuwe) Kerkraad die (ou) Dagbestuur se funksies sal oorneem en uitvoer. Dit was 'n baie lang proses wat amper twee jaar geduur het. Die gevolg van die besluit is dat die Kerkraad nie meer bestaan uit ouderlinge en diakens nie, maar uit die voorsitters (besluitnemers) van die verskeie komissies. Daarby kan die Kerkraad nie klaarkom sonder die leraars nie (volgens die Kerkorde) en is hulle ook deel ('n baie belangrike deel) van die nuwe Kerkraad. Die nuwe samestelling is gegrond op die voorskrifte van die Kerkorde en val binne daardie voorskrifte.
Die nuwe raadslede is vooraf aan die gemeente bekend gemaak. Nadat geen klagtes in die toegelate tydperk ontvang is teen enige van die genomineerdes nie, is die nuwe raadslede op 15 Augustus aan die gemeente voorgestel en is hulle aanstellings aanvaar.
Geskiedenis is gemaak met die eerste vergadering van die nuwe Kerkraad op 25 Augustus. Ds. Johan het as Voorsitter waargeneem en die verkiesing van die nuwe voorsitter hanteer. Anton Heyneke is verkies as Voorsitter van die Kerkraad, met Ds. Johan wat sal optree as Onder-Voorsitter.
Aangesien dit 'n nuwe Raad is met nuwe strukture, is dit nodig om krities aan te hou kyk na hoe om aan te pas en te verander om optimum te funksioneer. Daar is tans vakante posisies wat gevul moet word. Onder andere het die Jeug nie meer 'n leier nie nadat Anton as Voorsitter verkies is en daarom moes terugstaan as voorsitter van die Jeugkomissie.
Een van die belangrike punte vir elke gemeentelid om in gedagte te hou, is dat die nuwe struktuur dit makliker maak vir elkeen (oud en jonk) om betrokke te raak by een of ander van die aksies binne die gemeente, sonder om noodwendig betrokke te wees by die gereelde en lang vergaderings wat in die verlede baie mense afgeskrik het. Die versoek is dus weereens dat elkeen betrokke raak op een of ander manier - daar is 'n plekkie vir elkeen se bydrae en elke bietjie betrokkenheid gaan uiteindelik help om ons as gemeente sterker te maak en ons invloed op die mense rondom ons in Capital Park te vergroot. Hoe meer mense gewillig is om 'n deeltjie van hulle tyd en talente beskikbaar te stel, hoe makliker gaan die werk vir almal raak. Raak dus betrokke, asseblief.
Ons plaas in hierdie uitgawe 'n lys van kontaknommers van die nuwe Raadslede, sodat jy die korrekte mense kan kontak - dis nou om iewers jou hulp aan te bied.
Hier is die kontaknommers van die lede van die nuwe Kerkraad:
Anton Heyneke Voorsitter van die Kerkraad 082 922 9795
Bettie Landman Voositter: Senior bediening 012 326 6971
Chris Visagie Voorsitter: Eiendomme 082 302 8567
Fred Botha Voorsitter: Finansies 083 308 0152
Gert Lewis Voorsitter: Wyksleiers 012 323 0630
Hennie Gouws (Ds) Prediker 012 548 1486
Johan van Niekerk (Ds) Prediker 012 328 9157
Kobus Coetser Voorsitter: Erediens 082 496 2511
Lesley Truter Voorsitter: Gemeentebediening 084 607 1645
Rina vom Hagen Voorsitter: Vrouediens 012 323 0630
Sakkie de Bruyn Voorsitter: Diensverhoudinge 012 326 2994
Toetie Visagie Saakgelastigde 012 326 3711 (huis)
012 323 2574 (kerkkantoor)
(Vakant) Voorsitter: Jeugkomissie
(Vakant) Voorsitter: Getuienisaksie
Uitreik aksie - deur George Kilian
Wanneer 'n mens skuins by sestig begin verbyskuif, wil-wil jy begin "afskakel" en dit "kalmer" begin vat. Maar toe Ds. Johan en Anton my sowat twee maande terug nader om te help met die uitreik na die minderbevoorregtes in die omgewing, het ek ander perspektiewe op die lewe begin kry.Ds Johan het gevra of ek nie maar kan "voorvat" met die uitreik-aksie nie. Eers wou-wou die kleingeloof my oorrompel. In my binneste was ek maar heel skepties. Sou so 'n aksie kon slaag? Wat sou die reaksie van die gemeente wees? Dit was egter duidelik dat God agter die skerms gewerk het.
Ons (die uitreikgroep) het, na heelwat gebed, besluit ons gaan vir eers fokus op die parkie op die hoek van HF Verwoerd rylaan en Adcock straat. Die plan was om die minder bevoorregtes en werkloses daar van sop en brood, en wanneer ons kon, ook van komberse, skoene ens, te voorsien. Aanvanklik was daar ongeveer agt van ons in die groep wat die uitreikwerk begin doen het.
Dit is reeds ou nuus dat ons wonderlike samewerking van gemeentelede ontvang het na 'n beroep dat ons "sopmakers" nodig het om ons van sop te voorsien met die groente wat beskikbaar gestel word. Dit was gou duidelik dat God self hierdie projek wil seën. Ons het geweldige positiewe reaksie uit alle oorde (soms uit die mees onverwagte) ontvang.
Tans is daar sommige Maandae en Donderdae-aande al 'n groep van om-en-by 18 tot 20 lede betrokke. Ons het al begin dink om te verdeel in twee groepe (een vir elke aand) maar het besluit om die groep voorlopig intakt te hou.
Ons modus operandi is om op Maandae en Donderdae-aande 19:30 by die kerksaal bymekaar te kom, natuurlik "gewapen" met die sop en gesmeerde brood wat mildelik deur die gemeentelede voorsien word. Na 'n kort gebed ry ons dan in 'n kort konvooi na die parkie toe, waar sommige mense alreeds in die parkie om 'n vuurtjie bymekaar is of begin streep-streep na die plek waar die sop en brood uitgedeel word. Die gasstofie word dan gou staan gemaak om die sop (gewoonlik so 20 liter per aand) warm te maak. Daarna word die sop en brood (± 15 brode per aand) uitgedeel. Aanvanklik het ons die seën gevra, maar na die tweede of derde uitdeel, het ons gevra of iemand uit hul eie geledere nie kan voortgaan in gebed nie. Sonder huiwering het Elijah vir ons die seën gevra. Die volgende paar aande het Andries vir ons voorgegaan en was ons verbasing nie groot toe ons uitvind dat wat hy gebid het "Die Here is my Herder" was. Nou is dit 'n instelling om te bid vòòr die sop en brood uitgedeel word.
Dit is wat ons laat besluit het dat nie alleen die fisiese behoeftes nie, maar ook die geestelike, aangespreek behoort te word. Ons het begin om Bybels, Christelike blaadjies, kaartjies en dies meer aan die hongeres uit te deel en gou agtergekom dat hulle ook honger is vir die Brood van die Lewe.
Met die tyd het ons groep en van die mense in die parkie al begin om mekaar beter te leer ken en ervarings oor hoe die Here in ons harte werk, uitgeruil.
Ons as groepie wat uitreik, ondervind wonderlike seën. Die staatmakers waarsonder ons nie op die oomblik sal kan klaarkom nie is al die gemeentelede (sonder om name te noem) wat ons uit alle oorde voorsien van sop, brood, komberse, klere, skoene en soms ander middele ook, Anton Heyneke, wat gewoonlik die gasstofie en gassilinder vir ons saambring en help organiseer, George du Preez wat vir ons sy bakkie beskikbaar stel, Sarie Beckman wat as mede-koördineer help, Barbara wat vir ons die groente vir die sop voorsien, Hannie Swanepoel wat vir ons die "scriptures" voorsien, Leslie wat sy bussie vir vervoer beskikbaar stel, die lede van die Jeuggroep (sonder om name te noem) wat elke aand so getrou hulle kant bring en so entoesiasties bly nieteenstaande die koue wat ons beleef het, en les bes vir Ds. Johan vir sy leiding in hierdie projek.
Ek wil afsluit deur almal te bedank vir wat hulle bygedra het. U kan dink dat om 20 liter sop en 15 brode per aand uit te deel aan soveel as 50+ individue, volharding verg. Mag ons die krag ontvang om dit so vol te hou. Ons maak op u as gemeente se volgehoue ondersteuning staat!
Loof en prys Sy grote Naam!.
Sê jou sê
Hierdie is 'n gemeente-blad, en almal in die gemeente is welkom om iets by te dra. Dus, laat weet ons wat jy graag wil sê - en sê dit. Moenie terughou omdat jy nie goed kan spel nie, of omdat jy nie op 'n rekenaar kan tik nie, of om watter rede ookal. Die redaksie ken mense wat kan spel en taal regruk en dit alles op die rekenaar kan intik, dus is daar geen rede hoekom jy nie iets kan skryf nie. As jy nie kan skryf nie, kan jy ook laat weet (ons sal vir niemand vertel nie), want ons kan 'n gesprek met jou voer en dit hier plaas. As jy nie jou naam wil plaas nie, is dit ook goed so. Of gebruik 'n skuilnaam.
Hou egter in gedagte dat die redaksie die finale sê het oor wat gepubliseer word en wat nie en ons behou die reg om artikels aan te pas na ons goeddunke. Dink dus mooi voordat jy jou sê sê.
Dus, kontak die redaksie - gou - want die volgende uitgawe word reeds beplan.
Op ons Kalender
September 2010Vr. 3 - 4 Lentemark (Basaar)
Sa. 18 Beplannningsvergardering vir 2011
Vr. 23 Skole Sluit
Sat. 24 Erfenisdag
So. 3 Vrouediens se wegneemetes
Ma. 4 Skole heropen
So. 17 Tiendemaanddankfees
Sa. 23 Dames-oggend
Verjaarsdae
Aan al die lente-babas (en daar is 'n baie lang lys name) - lekker verjaar.Maar eers - Concordia se oudste lidmaat verjaar op die 16e September en, glo dit as jy wil, dan word sy 99 jare oud. Tannie Kotie, baie, baie geluk. Mag die Here u baie ryklik seën.
Ds. Hennie het onlangs op 29 Augustus sy 70e verjaarsdag gevier. Dit is 'n besondere mylpaal. Ds. Hennie, baie geluk en baie dankie vir die deeltjie van daardie mooi jare wat ons met jou en Heleen kon deel. Ons hoop op nog 'n hele paar sulkes in ons midde.
So gepraat van die lente. Om die aanbreek van die lente te vier, plaas ons een van C. Louis Leipoldt se bekendste gedigte - spesiaal vir die oueres van dae - "Oktobermaand".
Viooltjies in die voorhuis,Viooltjies blou en rooi!
Viooltjies orals op die veld,
En orals, ai, so mooi!
Dit is die maand Oktober,
die mooiste, mooiste maand:
Dan is die dag so helder,
so groen is elke aand,
So blou en sonder wolke
die hemel heerlik bo,
So blomtuin-vol van kleure
die asvaal ou Karoo.
Dit is die maand Oktober:
die varkblom is in bloei;
Oor al die seekoegate
is kafferskuil gegroei;
Die koppies, kort gelede
nog as 'n klip so kaal,
Het nou vir welkomsgroetnis
hul mooiste voorgehaal.
Dit is die maand Oktober:
die akkerboom is groen;
Die bloekoms langs die paaie
is almal nuutgeboen;
En orals in die tuin rond
ruik jy sering en roos,
Jasmyn en katjiepiering,
lemoen en appelkoos.
Al was die dag soos yster,
lank in die vuur gesteek,
Die varings in die klofies
deur hitte geel verbleek,
Tog as die son daaronder
agter die berge gaan,
Dan word oor heel die wêreld
die mooiste geur geslaan.
Dit is die maand Oktober:
die kokewiet is uit;
Boomsingertjies en kriekies
die hoor jy orals fluit;
Fiskaal is op die oorlog:
daaronder by die sluis,
Daar is 'n dor ou doringboom
sy spens en sy kombuis,
Dit is die maand Oktober:
ek dink, die mense vier
Vir ewig in die hemel
Oktobermaand soos hier!
Wat wens jy meer as blomme,
as helder dag en nag?
Wat kan jy beter, mooier,
of heerliker verwag?
Ek is nog in Oktober:
my tuin is nog so groen,
So wit met al wat mooi is,
met bloeisels van lemoen,
So pragtig in die môre.
so heerlik in die aand!
Ek is nog in Oktober,
die mooiste, mooiste maand!
Wat gee ek om die winter?
Wat praat jy nou van Mei?
Wat skeel dit, as ons later
weer donker dae kry?
Ek is nou in Oktober,
die mooiste, mooiste maand,
Met elke dag so helder,
so pragtig elke aand!
Viooltjies in die voorhuis,
Viooltjies blou en rooi!
Viooltjies orals op die veld,
En orals, ai, so mooi!
| < Vorige | Volgende > |
|---|





